Terugvoer: Royal Family Kids Kamp

Hallo vriende!

Dis vir my so lekker om bietjie terugvoer te gee oor die kamp wat ek in Junie bygewoon het. Weet dis nou al ‘n rukkie terug maar dink tog dit sal goed wees om met julle te deel.

Hier onder is ‘n groepfoto van die vrywilligers wat hulle beskikbaar gestel het die week wat ons weg was. Ek kan eerlik sê op albei kampe wat ek bygewoon het is daar ‘n enorme opgewondenheid wat heers voor en tydens kamp.

Hierdie mense se harte is vol omgee vir die kinders, om die kamp vir hulle onvergeetlik te maak is fokus nommer een. Dalk wil jy dit oorweeg om betrokke te raak? Jy is baie welkom. Ek weet van een wat oppad is. Dit is in Desember, die Benoni groep se jaarlikse kamp.

Hierbo is ek en Kemi, my mede ‘counsellor’ vir die week besig om ons kamer te versier en verwelkomend te maak voordat die kinders met wie ons die kamer gedeel het tydens die kamp arriveer. Ons tema vir die week was ‘The Lord is my Shepherd’ daarom die skapies!

Seker dit is geen verrassing maar die dogterjies wat ons kamer gedeel het, het hulle kamer gelove!

Die kinders is gedurende die week geseën met pragtige geskenkies soos byvoorbeeld by hulle onderste-bo agterste-voor verjaarsdag-partytjie, het my kop daai dag gespin. Die Woord van Abba is nie nagelaat. Elke oggend was daar ook Bible Club, poppespel en al!

Die week is tjok en blok met aktiwiteite wat wonderlike herinneringe skep om saam terug te neem en altyd te koester. ‘n Hindernisbaan en handwerk-stasies het hulle onder andere gehelp om soos-hulle-gemaklik-voel en aangemoedig-word struikelblokke en vrese te oorwin.

Hier kry ek en Kemi ‘n vinnige kans om ook deel te neem aan pyl-en-boog-skiet, een van die aktiwiteite wat die kinders baie geniet het. En daar skiet Kemi toe wragtie ‘n bullseye!

Ek onthou op een van die dae het ons ‘n dagstap gaan doen in die berge. Watter wonderlike geleentheid het Abba my toe gegee om prakties te kan uitbeeld wat dit beteken om die leiding van ons Hemelse Herder te vertrou.

Ek het een van die dogtertjies saam met wie ek ‘n kamer gedeel het se hand geneem en vasgehou soos ons begin stap het. Meer in ‘n poging om haar naby my te probeer hou want sy was nogals ‘n rats een en baie gereeld vinnig onder my oë uit.

Soos ons stap besef ek dis ‘n gulde geleentheid vir ‘n teachable moment en ek sê toe vir haar dat Jesus ons ook so mooi wil lei soos wat sy my lei. Ek kon sommer sien hoe die aanmoedigende woorde presies doen waarvoor dit gestuur is. Sy het elke nou en dan ‘n watch out laat hoor en so deeglik en versigtig te werk gegaan om my veilig te hou. Dit was so kosbaar vir my en ek bid dat sy dit vir altyd sal onthou.

Ons het ook ‘n kampliedjie wat hope pret en dans beteken. Die kinders en grootmense wikkel daai heupe dan lekkerrr.

Daar was ook ‘n cowboy aand en hoe het die kinders die op-dress met hoed en serpie geniet. Hulle het nie daardie spesifieke aand enige aanmoediging nodig gehad om aangetrek te kom!

Met die terugkeer is mens dalk fisies en emosioneel meer moeg as vroeër die week maar die harte is propvol. Selfs ons, die volwassenes, groet met heimweë en prag-herinneringe. Ons sien dalk nie maklik weer die kinders nie maar in ons gedagtes en gebede bly hulle voortleef.

Hierdie kampe het nogals rerig kom nes skrop in my hart. Ek glo in hulle. Abba gebruik hulle om stukkende kinderlewens op te beur en hoop te kom plant. As jy meer informasie benodig, kontak my gerus of sommer direk vir die span. Hulle webtuiste is: https://www.i-c-y.co.za of https://rfk.org/.

Baie dankie vir elkeen van julle wat deel was van die kamp, of dit nou met gebede of finansies was. Julle deel in die vrug wat voortkom! Elke kindjie wat op die kamp was is dankbaar. As julle hulle totsiens-briefies of -gesiggies kon lees sou julle saamstem.

Hoop julle het die kiekies en nuus van die kamp geniet.

Liefde en goed-gaan vriende.

Letitia

Nota:

As jy weet van enige projekte of waardige sake wat Liefde in Aksie – ons praktiese omgee been hier by die blog – kan ondersteun laat weet gerus. Ek sal graag wil weet daarvan of selfs net bewusmaking wil skep soos Abba lei. Dankies!

Advertisements

Royal Family Kids Kampe!

Liewe vriende,

Hoop dit gaan baie goed met julle almal. 🙂

Ek is opgewonde om julle te vertel van ‘n wonderlike projek wat so paar maande terug my pad gekruis het. Lees meer daaroor hieronder!

Royal Family Kids Kampe. Kampe met soveel amazingness. Sjoe my hart word skoon warm en hartseer tegelyk wanneer ek na videos oor dié kampe kyk. Warm omdat daar mense is wat omgee. Hartseer omdat daar soveel kinders is daarbuite wat diep pyn ken.

Ek stel julle graag voor aan I.C.U. / Influeincing Children & Youth (http://www.i-c-y.co.za). Hulle is ‘n nie-winsgewende organisasie gewy daaraan om die lewens van mishandelde en verwaasloosde kinders tussen die ouderdom 7-14 op te helder.

Een van die maniere waarop hulle dit doen is deur jaarlikse kampe en mentorskap-programme aan te bied vir hierdie minderbevoorregte kinders. Kinders uit die gemeenskap wat nie die omgee en liefde van ‘n gesonde gesinsverband ken nie.

Hulle doen soveel moeite om die kinders spesiaal en geliefd te laat voel gedurende die 5-dag kamp. Die kinders word ook in hierdie tyd vertel van God se liefde, die Kruis van Jesus en dat daar ‘n plan vir hulle elkeen se lewe is.

Benoni, Roodepoort, Secunda, Alberton, Ladismith (in die Kaap), Brits en Namibië is voorbeelde van waar die kampe aan die suide van die Afrika kontinent aangebied word.

Vind hier uit hoe mens hulle kan help met hierdie jaar se Kempton-Park kamp:

Met die hulp van ons ondersteuners kon & kan Liefde in Aksie (ons praktiese omgee-been) al R 925.00 bydra vir hierdie jaar se kamp benodighede. So wonderlik, dankie julle!

Maar daar is nog ietsie wat ek graag met julle wil deel. Ek sal die kamp (24 Junie – 29 Junie 2018) baie graag wil bywoon as vrywilliger. Dit sal vir my ‘n voorreg wees om saam met die res van die span vir die kiddies te gaan wys hoe Jesus se liefde in aksie lyk. Hiervoor benodig ek R1 200.00. As jy in jou hart voel om ‘n bydrae te maak in hierdie verband is jy welkom om my te laat weet of RFK as verwysing te gebruik met jou donasie inbetaling.

Baie dankie vir jou omgee, al is dit net om in jou gebede aan die seer-hart-kinders van hierdie wêreld te dink. ‘n Verskil kan ons maak! x

Kyk hier om te sien hoe die kampe lewens impakteer…

Dankie dat ek kon deel.

Groetnis en baie seën!

Letitia xxx

Seën Anker van Hoop jou?

Liewe boetie en sussie,

Pad van geloof

Anker van Hoop is ‘n vol-donateur-ondersteunende bediening. Letitia het in Januarie van 2013 in gehoorsaamheid aan Vader se roepstem uitgetree en saam met Hom hierdie pad van geloof begin stap. Die bediening is deur God begin en glo dat God hulle ook tot op die einde sal bly dra deur die volvoering van Sy plan en roeping vir Anker van Hoop.

Gemeenskap van gelowiges

Ons glo dat die Here groot dinge instoor hou vir hierdie bediening maar ook dat die Here opsoek is na mense wat saam met Hom in vennootskap sal gaan om Sy werk in en deur hierdie bediening tot volle verwesenliking te bring. Hierdie is ‘n beroep op julle die gemeenskap van gelowiges om saam met Pappa te arbei in wat Hy deur Anker van Hoop hier op aarde wil doen.

Jesus maak gesond

‘n Visie van die hemel is besig om elke dag meer en meer te groei in die hart van hierdie bediening en ons is bereid om saam met Abba te werk om hierdie visie op aarde gestalte te laat kry. Ons glo dat Vader ons roep om harte en lewens gesond te maak deur die liefde van Jesus te wees, aan die wat dit so nodig het maar ook aan die wat nog nie in God glo nie.

Liefde in aksie

Ons wil deur die genade van die Here ook prakties en regtig betrokke raak by die seer van hierdie wêreld deur letterlik die hande en voete van Jesus te
wees waar die Here vir ons die deure oopmaak. Ons glo dat saam met God
alle dinge moontlik is en dat ons saam met Hom groot verskil hier op aarde
kan maak.

Bron van voorsiening

Die lewenskostes van Letitia en ook om hierdie bediening op die been te hou
is ‘n saak van uiterste geloof, ‘n saak waarvan net die Here die volle omvang
ken. Ons vertrou op ons Hemelse Vader vir elke sent wat hierdie bediening
ontvang. Ons glo ook dat saam met ons Hemelse Vader ons nooit hoef te
vrees nie want Sy liefde vir ons elkeen is so volmaak en Hy is bo alles ons
Bron van Voorsiening. Dit glo en weet ons hier by Anker van Hoop.

Moeilike tye leer die mooiste lesse

Die begin-jare van hierdie reis het ongelooflike lesse ingehou, lesse wat
moeilik was om te leer. Lesse waar ons moes leer op wie ons waarlik moet
vertrou. Lesse wat nie maklik was nie maar lesse wat so nodig is vir die pad
wat voorlê. Hierdie dinge deel ons nie met julle om julle te vermaak of om
julle simpatie te verkry nie. Ons moes op die harde manier leer, omdraai is
nie ‘n opsie nie selfs al lyk dinge ook hoe moeilik.

God baan die weg

Letitia weet waarvoor God haar geroep het, sy weet dat sy in die senter van
Abba se wil is en dat Hy wel die pad vorentoe sal baan net soos Hy nog altyd
het. Ons glo wel dat Hy hierdie geleentheid skep en vir julle vra om deel te
raak van die werk wat Hy hier op aarde deur Anker van Hoop gaan doen.

God se koninkryk

Ons is nie ‘n spesiale bediening nie, ons is geroep soos baie van ons aardse boeties en sussies om God se Koninkryk op aarde te vestig. Niks beter as niemand nie maar tog met die vermoë om die Lig van God hier op aarde te versprei. Ons bid gereeld vir visie en ons weet dat Vader vir ons elke tree sal wys. Net soos wat Hy gemaak het tot hier.

Hande vat

Ons nooi jou boetie en sussie om betrokke te raak by wat Vader deur ons wil en gaan doen. Sal julle saam hande vat en gee dit wat Vader in hierdie oomblik op julle harte lê. Is dit nou met finansies, gebed of liefde. Ons waardeer elke een. Elke stukkie omgee, elke saad wat julle in God se Koninkryk saai.

Baie dankie

Dankie dat ons hierdie oproep aan julle kan maak. Dankie dat ons kan gehoorsaam wees. Dankie dat julle gehoorsaamheid ons ook seën en ons instaat stel om te doen dit wat ons Hemelse Vader van ons vra. Ons seën julle in Jesus Naam. So ryklik. Mag ons Abba Sy seën oor julle laat reën, die wat gegee het, die wat gee en die wat saam vertrou vir hemelse reën. Liefde boetie en sussie, dankie dat ons kon deel wat in ons harte lê. ‘n Briefie van Abba Vader net om te vra wil jy deel raak. Ons glo dat Vader hierdie briefie vooruit gaan.

Pappa praat

Hy fluister … Hy sal die werk in menseharte doen. Dis waarvoor ons Hom vertrou. Dis wat ons glo.

Hemelse hoop

Liefde, liefde, liefde … mag ons saam sien hoe God se Koninkryk hierdie wêreld infiltreer en elke dag meer en meer hoop gee. Dit is ons missie hier by Anker van Hoop. Dit is waarvoor ons geroep is. Om hierdie wêreld met die hoop van Jesus Christus te klee. Amen.

Soos Abba lei

As jy op enige wyse wil betrokke raak, kontak ons gerus. Maandelikse bydrae is baie welkom. Jaarlikse bydrae. Net soos Abba jou lei. Dankie in Jesus vir jou tyd boetie, sussie. Amen.

Gaan kuier hier vir die blog

http://www.ankervanhoop.com

Anonieme donasies

Rekening naam : Anker van Hoop
Bank : Capitec
Rekening nommer : 1507489631
Takkode : 470010

Pappa vou julle toe in Sy shalom, Amen.